GOEIE NUUS/GOOD NEWS: 'n Verdere Wonderwerk
  Op verskeie maniere en by verskeie geleenthede het die Here met ons gepraat oor die publikasie van ‘n Christelike koerant, omdat die geskrewe woord nie vlietend van aard is soos die gesproke woord nie. Dit kan by herhaling gelees en bepeins word.
Twee jaar voordat GOEIE NUUS/GOOD NEWS begin is, het ons reeds die roeping ontvang om ‘n Christelike koerant te begin. Ons het nie onmiddellik geweet hoe om te werk te gaan nie, aangesien dit ‘n geloofsaak sou wees. Ons het oor geen fondse beskik nie.
Op 7 November 1996 het die Here ons uitgedaag om “op die water te loop” (Matt. 14:28-32). Hoewel ons gebid en die visie met mede–gelowiges gedeel het, het daar niks gebeur voordat ‘n persoon die stem van die Here gehoor het, gehoorsaam was, en op 7 Maart 1998 aan ons die nodige rekenaartoerusting (nuut) van ongeveer R12 000 geskenk het nie! Kort hierna was daar nog twee persone gehoorsaam aan die stem van die Here en het ons verdere programmatuur bekom teen R5 000. Na nog ‘n skenking van R4 000, was die bedrag wat die Here tot ons beskikking gestel het, ‘n enorme bedrag van 21 000! Al die eer aan die Here! Kort hierna het die eerste uitgawe van GOEIE NUUS/GOOD NEWS gedurende April 1998 sy verskyning gemaak. Nadat ons koerant een jaar in Potchefstroom gevestig was, het God ons opdrag gegee om uit te brei na Klerksdorp. ‘n Jaar later moes ons uitbrei na Stilfontein en Hartbeesfontein.
Die Here het nou aan ons opdrag gegee om GOEIE NUUS/GOOD NEWS ook in Orkney gratis te versprei. Na net meer as drie jaar versprei ons nou 31 000 kopieë van GOEIE NUUS/GOOD NEWS gratis van huis tot huis in die POTCH-KOSH-area! Dit beteken dat ons elke maand ongeveer 125 000 lesers bereik met die “Goeie Nuus”, die “Blye Boodskap” van die Here!
GOEIE NUUS/GOOD NEWS is die bediening van ‘n gesin wat onafhanklik werk en is dus nie die mondstuk van enige spesifieke Kerkgenootskap of gemeente nie. Ons poog om alle mense-gereddes en ongereddes - tot diens te wees.
Die koerant word gedra deur advertensies en borge en word gratis van huis tot huis versprei. Daarom is ons baie afhanklik van u gebede, artikels, getuienisse en finansiële bydraes!
Ons wil aan al ons adverteerders, borge en ondersteuners baie dankie sê vir u volgehoue ondersteuning. Mag die Here u ryklik seën! Mag Hy u seën met die seënbede van Num. 6:24-26: “Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou Iaat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.”

Indeks     Index